Sunday, March 9, 2014

Nuwe Nuwejaarsvoornemes

Nuwe Nuwejaarsvoornemes

‘n Mens se beste vriend is sy drome, dit trek mens deur die lewe. Dis hoekom dit so lekker is om met Oujaar voornemens te maak. Veral as mens tussen vriende is, ‘n glasie wyn drink, kuier. Dis heerlik om te dink dat daar ‘n nuwe begin is, dat dinge hierdie jaar gaan anders wees. 

Volgende oggend begin die skuldgevoel so liggies in my bors roer. Nou sal ek doen by al my dapper praat moet sit.

En hier’s ek alweer met my Nuwejaar voornemens wat nou verwyte geword het. Twee maande van 2014 is verby en bokkerol gebeur.

Voornemens - die woord bevat ingeboude weerstand. Die oomblik wanneer ‘n mens sê: “Ek gaan hierdie jaar maer word.” is daar ‘n draai gevoel op mens se maag, ‘n klein stemmetjie wat sê “ Ja, regtig! Het dit al gehoor! Weer gaan niks gebeur nie.” Net soos al die ander jare. Brene Brown beskryf dit so: Ek is ‘n ervare kaartmaker en ‘n struikelende reisiger in die avontuur van die lewe.  

Ons as mense laat ons mos nie voorskryf nie, nie eers deur onsself nie! Ek moenie vir my liggaam vertel “Jy gaan maer word nie”. Elke selletjie spring dadelik op, erg gewip. Maar as ek sê: “Hierdie jaar gaan ek elke dag dankie sê vir my liggaam en uit dankbaarheid gaan ek jou, liggaam, oppas deur gesonder te eet. Ek gaan lag en dans en die lewe vier.” Dit voel lekker! Nou skree die selletjies van opwinding. Deksels, voel soos Oujaarsaand

So, nou is daar die KPB plan - konstante positiewe beweging. Om elke dag gewoontes in te bou wat my nader aan my doelwitte neem. Ja, doelwitte, nie voornemens nie! So dis die plan vir die res van my jaar. Die tien maande wat nog oor is. En hierdie jaar gaan ek maer word!


My wens vir jou: “May your actions be beautiful prayers” – Rainn Wilson

Shine - dis jou reg!

1 comment:

  1. Hallo Sonia! Baie bly oor jou blog! Ek hoop ek gaan nog baie lees hier!

    ReplyDelete